Monday, May 5, 2014

10 vrae aan Marisa Haasbroek


Marisa Haasbroek het bekendheid verwerf vir haar romantiese verhale vir volwasse lesers, onder die skuilnaam Rykie Roux. Haar eerste jeugboek Iewers vlieg daar fairy dust is ’n onvergeetlike leeservaring. 


1. Iewers vlieg daar fairy dust is nie net jou eerste jeugroman nie, dit is ook die eerste boek wat jy onder jou eie naam publiseer. Hoe voel dit om vir die eerste keer jou eie naam op die (baie mooi!) omslag van ’n boek te sien?
Ek het gister my outeurskopieë gekry en dis heerlik. Ek het vantevore wel kortverhale onder my eie naam gepubliseer. Op die internet swerf nou nog ’n kortverhaal van my, Erik se T-hemp, rond wat oorspronklik in Sarie verskyn het. Iemand in Kanada het selfs die moeite gedoen om dit in Engels te vertaal.

2. Wat was die vonk vir hierdie verhaal?
Ek loop al jare en wonder wat sou in Aspoestertjie se storie gebeur het as die koetsier op haar verlief geraak het, hy haar nie by die bal gaan aflaai het nie en saam met haar weggeloop het. Hoekom mag mense wat altyd tweede viool moet speel nie ook helde en heldinne wees nie?

3. Dis ’n Aspoestertjie-verhaal hierdie met ’n sterk romantiese streep en wat in die eerste plek heerlik lees. Maar tog is die uitbeelding van armoede en sosiale omstandighede in plakkerskampe onthutsend – en op die oog af baie lewensgetrou. Hoe het jy die fyn balans tussen die “liefdesverhaal” en die sosiaal-maatskaplike problematiek in die boek bewerkstellig?
Iewers vlieg daar fairy dust is ’n sprokie en is nie bedoel om ’n neerdrukkende boek te wees nie, maar ek hoop dat deur die heldin die soort omstandighede te laat oorkom waarvan die meeste tieners in hierdie land al gehoor het en baie van hulle dalk self beleef, die storie groter en meer werklik word. Om optimisties te bly het ’n mens twee dinge nodig: ’n droom en die hoop dat dit bewaarheid kan word. Die goeie feë in die lewe is die mense wat daardie hoop bly verskaf. Ek dink dis waaroor Iewers vlieg daar fairy dust gaan.

4. Voorin die boek bedank jy die mense van Kleinfontein se woonwapark, wat die storie geïnspireer het. Hoeveel (en watter soort) navorsing moes jy doen om die lewe in ’n plakkerskamp so oortuigend te kon uitbeeld?
Ek bly self in Kleinfontein, ’n Afrikanerkultuurnedersetting naby Pretoria. Een van die doelstellings van ons gemeenskap is om aan verarmde Afrikaners ’n heenkome te bied deur vir hulle werk te gee. Ek ken van hierdie mense persoonlik, ek weet hoe vernederend vind hulle dit om “deernisgevalle” genoem te word. Uit armoede kom mens eintlik eers ’n hele geslag later deur beter onderwys en dis hoekom die skool op Kleinfontein vir ons so belangrik is. In Iewers vlieg daar fairy dust salueer ek ook die maatskaplike werkers van die Christelike Maatskaplike Raad vir hul opheffingswerk in talle plakkerskampe, en wil ek ook dankie sê vir kerkgroepe wat byvoorbeeld songeisers installeer en voorafbetaalde krag vir arm mense reël, en vir organisasies soos Solidariteit Helpende Hand en hul beursfonds. Die meeste gebeure en karakters in die boek is egter fiktief. Regte mense en omstandighede kan vir ’n skrywer hoogstens ’n beginpunt wees.

5. Hoewel hierdie ’n volbloed-tienerverhaal is, vermoed ek volwasse lesers gaan dit ewe veel as tieners geniet. Wat het jou laat besluit om spesifiek ’n storie vir tieners te skryf?
Met twee tieners in my huis wat boonop ywerige lesers is, was dit ’n lekker uitdaging om te sien of hulle ma kon meeding met hulle gunsteling-skrywers, soos Suzanne Collins en Orson Scott Card. Ek het die eerste weergawe van die storie oor ’n Desembervakansie geskryf en elke aand vir Pa en die twee tieners die dag se skryfwerk voorgelees. Hulle was erg krities en het my gereeld die volgende dag maar weer laat oorskrywe. Omdat dit ’n meisie-boek is, het ek dit opgedra aan Annamaria, my vyftienjarige meisiekind. Johannes, my seun, word een van die dae sewentien; hy is meer van ’n wetenskapfiksieleser.

6. Een van die redigeerders wat aan die boek gewerk het, noem dit een van die beste jeugboeke wat hy ooit gelees het. Watter jeugboeke het jy die afgelope paar jaar gelees wat ’n groot indruk op jou gemaak het?
Soos die res van die wêreld ek die Twilight-reeks baie geniet. Op my dogter se aandrang het ek The Hunger Games gelees en alhoewel die storie vir my baie somber was, bly Katniss se selfopofferende instaan vir haar suster en haar eerbetoning aan die jong Rue, wat sy so met blomme bedek het, my bly. In Afrikaans is Liefde laat jou rice kripsies anders proe ’n gunsteling. Vir die mooi taal en onsterflike karakters sal Alba Bouwer se drieluik Stories van Rivierplaas altyd op my boekrak staan. Ek was twaalf toe ek dit die eerste keer ontdek het en lees en geniet dit elke nou en dan weer.

7. Wat was vir jou die grootste uitdagings om vir die tienermark te skryf?
Ongetwyfeld die taalgebruik. Ek is van die generasie vir wie die gebruik van so baie Engelse woorde, wat ek ook by my eie kinders hoor, grief. Maar ek is in die eerste plek ’n skrywer en nie ’n aktivis nie en dan probeer mens getrou bly aan jou karakters, dus praat Elmien en Ruan in Iewers vlieg daar fairy dust soos ek dink tieners in hulle omstandighede sal praat.

8. Waaraan werk jy op die oomblik – is daar dalk nog ’n verhaal vir jongmense aan die broei?
Ek is altyd aan die skryf. Ons gesin staan aan die vooraand van ’n groot avontuur, want my man het ’n werksaanbod in Amerika gekry en ons gaan binnekort vir ’n paar jaar tussen die Yanks woon. Ek glo dié ondervinding sal die kreatiewe sappe weer laat vloei en voel klaar die roering van ’n idee vir ’n storie. Ek sal altyd ’n Afrikaanse skrywer bly.

9. Wat is die beste skryfraad wat jy ooit gekry het?
’n Skrywer is iemand wat skryf. Moet dus nie wag vir die groot inspirasie om te tref nie, skryf net elke dag.

10. Voltooi: As ek ’n dag lank ’n Goeie Fee kan wees, sal ek ...
Deur die land wou reis en vir elkeen wat voel of hy of sy in ’n onhoudbare situasie is, ’n bietjie fairy dust van hoop wou gee dat drome waar kan word, al gaan dit soms hoe moeilik.

Sluit gerus aan by Marisa se Facebook-groep: https://www.facebook.com/MarisaHaasbroekStories

No comments:

Post a Comment