Tuesday, February 17, 2015

My 5 vrotste storie-idees ooit


"The Kiss of the Muse" - Paul Cézanne
Soms kry jy ’n storie-idee wat jou hoendervel-opgewonde maak. ’n Idee wat jou storie-antennes verbete laat vibreer. Wat jou dadelik ore in die nek die naaste stuk papier laat gryp sodat jy doodseker kan maak hierdie briljante storievonkie word nie iewers in die grys groewe van jou brein geblus nie.
            In my geval is ’n belowende idee dikwels iets baie laf en uitbundig.
            Byvoorbeeld: Sê nou daar’s hierdie outjie wie se ouma die beroemdste Afrikaanse rocker in die land is – maar hy is glad nie beïndruk daarmee nie?
            Of: Wat as die hangkas in jou nuwe slaapkamer in werklikheid die geheime ingang na ’n kasteel is waar ’n hele spul monsters bly – van ’n grillerige groen hand tot ’n knorrige weerwolf genaamd Flaffie en ’n Elvis-nabootsende vampier? Maar eintlik is al hierdie monsters heel vriendelik – en hulle het gereeld jou hulp nodig ...
            Of: Jy sit een middag in die tuin ná ’n besonder moeilike dag by die skool – en uit die bloute val daar ’n man in ’n superhero-pak uit die lug en land reg op julle hondehok. Hy val so hard op sy kop dat hy nie kan onthou wat sy naam is, waar hy vandaan kom of waarheen hy op pad was nie. Trouens, hy kan nie eens onthou hoe om te vlieg nie. Hoe leer jy ’n superhero om weer te vlieg?
            Of: Sê nou jou beste pel dare jou om ’n hele week lank nie jou tande te borsel nie?
            Dis ’n paar van my storie-idees wat oplaas in boekvorm beland het. Jy kan gaan lees wat die idees opgelewer het in My ouma is ’n rock-ster, die Kas vol Monsters-reeks, Superheroes vlieg net saans en Koebaai, gorilla. Oor elkeen van hierdie idees was ek mateloos opgewonde. Opgewonde genoeg om ure van my lewe daaraan te bestee om stories van hulle te maak.
            Maar die Muse het ’n aweregse humorsin. (My baie beskaafde manier om te sê soms is die Muse ’n spiteful helsem.) Partykeer fluister sy die grootste klomp suiwer, onverdunde snert in jou oor. En dikwels het jy nie dadelik die insig om te besef die idee wat jy tans so verwoed op ’n flentertjie papier neerpen, is in werklikheid ’n spul suiwer, onverdunde snert nie.
Hier is vyf van die simpelste storie-idees waarmee ek al gestoei het. Party het my ’n hele paar weke besig gehou – en soms selfs ver genoeg gevorder om my arme uitgewer hoofbrekens te besorg – voordat ek besef het dit stink.

1. ’n Laerskoolseun vlug vir boelies, val van sy fiets af en kap sy kop baie hard. Toe hy wakker word, is hy in ’n vreemde land waar ’n pratende hoender hom probeer oortuig hy is die legendariese Draakslagter wat gekom het om die koninkryk van ’n vreesaanjaende RAAI NET WAT te red. Die manuskrip se naam was Die Draakslagter wat chicken was. Lekker titel. Crap storie.

2. ’n Alfabetboek met rympies oor groente en vrugte. (My uitgewer het gelukkig hierdie uiters opwindende idee heel diplomaties van die tafel gevee nog voor ek by “B vir broccoli” kom uitkom.)

3. ’n Ystervark-seuntjie vra vir sy ystervark-mamma wat “liefde” beteken. Hulle gaan op ’n ontdekkingstog deur die veld om maniere te kry om te verduidelik wat liefde beteken. Ek is doodskaam om te sê die eerste (en enigste) weergawe van die manuskrip bevat die sin: (E)k dink liefde lyk en ruik en proe soos ’n spierwit gousblom. My enigste verontskuldiging is die feit dat ek regtig nog baie nat agter die ore was toe ek dit geskryf het. (En dit het ook nie gehelp dat ek destyds pas gelees het hoeveel eksemplare van Guess how much I love you wêreldwyd verkoop is nie. Dit wys jou net, as jy agter geld aan begin skryf, smaak liefde later vir jou soos ’n gousblom.)

4. Vertaal en herskryf Pinocchio vir ’n nuwe generasie Afrikaanse lesertjies! Fantasties! Briljant! Kom ons spring dadelik weg! *Kry oorspronklike teks in die hande en raak aan die slaap van verveling nog voor jy by die deel kom waar Gepetto die houtpop begin maak.* #ProjekGestaak

5. ’n Boek met die titel Moenie hierdie boek eet nie. Fantasties! Briljant! Kom ons spring dadelik weg! *Sien op Google daar’s reeds ’n boek getiteld Don’t eat this book.* #ProjekGestaak

Nou ja, soos hulle in Engels sê: Some you win, some you lose. En solank die Muse aanhou om idees in jou oor te fluister, moet jy haar maar vergewe vir die kere wat sy jou ’n poets of twee bak.

3 comments:

  1. Nou waar is my "comment" nou? Hier gaat ons weer...
    Wat van 'n EAT Afrikaanse onnie met vrot idees vir Gr 10 voorgeskrewe gedigte? Ek vermoed dat die gedig waarmee ek tans besig is, dalk bietjie te moeilik is vir hulle. Het verlede jaar "Rilrestaurant " met my Gr 9's gedoen. Hulle was mal daaroor. Watter een van jou gedigte sal jy voorstel vir Gr 10's? (Of skryf vir ons enetjie... dink net hoe opgewonde my tussen- kind- en-grootmens-goetertjies sal wees as daar 'n rympie spesiaal vir hulle is!) Maar ek weet die 'muse' moet kom kuier... As 'n onderwyseres is ek baie dankbaar vir jou werk... dit maak my werk makliker! En pret!

    ReplyDelete